Concert of Opera – Skuif na 25 Oktober

Loading Events
This event has passed.

‘N EENMALIKE KONSERT VAN OPERA

Op Sondag 24 Mei 2020 kan operaliefhebbers ‘n operakonsert bywoon in die Atterburyteater
in Pretoria met die Italiaanse liriese sopraan Anna Bordignon. Saam met haar op
die verhoog is die internasionaal bekroonde spinto-tenoor Stéfan Louw, en twee plaaslike
sangers – die liriese tenoor Johann du Toit en die liriese bariton Phuti Matuba. Paul
Ferreira, een van die voorste opera-begeleiers in Suid-Afrika, sal hulle op die klavier
begelei.

Die eerste konsert van opera is in 2014 in die Aula-teater van die Universiteit van Pretoria aangebied
en is sedertdien ‘n jaarlikse instelling. In Mei 2019 is dit weer in die Atterbury-teater opgevoer, met
entoesiastiese applous van die volhuis-gehoor. Hierdie konsert wat slegs eenmalig vertoon word,
word gereël en befonds deur Francois Visser, ‘n mediese dokter met ‘n passie vir opera. “Suid-Afrika
het ‘n wonderlike talentpoel van operasangers,” sê Visser. ‘En daar bestaan so min geleenthede vir
almal om op te tree. My doel met die jaarlikse konsert is om ‘n platform te skep vir aspirant-sangers
om saam met meestersangers met internasionale ervaring te kan optree.’

Een so ‘n veteraan is die Pretoriase tenoor Stéfan Louw, wat sy debuut in 1998 tot groot lof gemaak
het. Sy debuutrol, Beppe in Leoncavallo se opera I Pagliacci, het hom die gesogte FNB Vita Operatoekenning
vir die mees belowende nuweling in Opera verwerf. Teen 2005 het die Sunday Times
berig dat “sy stem tot ‘n nasionale skat verklaar moet word.” In 2008 vertolk hy sy eerste dramatiese
rol as Radames in die opera Aida van Verdi – wat in Johannesburg geopen is, gevolg deur sy Europese
debuut in Vichy, Frankryk. Tydens sy Europese operatoer in 2017 het hy in sewe maande 240
optredes gesing. Louw se 22-jaarlange operaloopbaan het hom sien optree in al die Suid-Afrikaanse
metros, Namibië, Mosambiek, die Verenigde State van Amerika en Europa. Hy het twee operaalbums
vervaardig, Reflections en Lyrico, en sy derde album Spinto word binnekort vrygestel.

Die Italiaanse sopraan Anna Bordignon sluit by Louw aan op die verhoog. Sy het in 2010 haar debuut
as gravin Stasi in die Hongaarse operette Die Csárdásfürstin (Die Sigeuner Prinses) gemaak. Nie net
het sy ‘n graad in opera aan die Vicenza Conservatory in Italië nie, maar sy het ook talle
sangkompetisies in Italië gewen. Aan die begin van 2019 verskyn sy saam met Placido Domingo in
Verdi se opera La Traviata in die Muscat Royal Opera House in Oman, waar sy die rol van Annina, die
diensmeisie van Violetta, vertolk. Haar mees onlangse opvoering was dié van Micaëla, ‘n dorpsvrou,
in Bizet se opera Carmen op die Teatro Pergolesi in Italië gedurende Desember 2019. Bordignon se
repertoire bevat onder meer die rolle van Gianatta in L’elisir d’amore, Despina in Cosi fan tutte,
Musetta in La Boheme, Liu in Turandot, en Pamina in Die Zauberflöte.

‘n Gunsteling by die gehore in Pretoria is die plaaslike tenoor Johann du Toit. Hy het sy opera
loopbaan in 1998 begin toe hy by die Pretoria Staatsteater Operakoor aangesluit het vir die twee
een-bedryf operas Cavalleria Rusticana en I Pagliacci. In 1999 stel hy sy eerste album Sonder Jou
saam met Nicholas Louw vry. Sy tweede album ‘n Huldeblyk aan Gé Korsten is in 2002 vrygestel.
Saam met du Toit en die ander sangers is die jong bariton Phuti Matuba, wat in 2018 sy operadebuut
gemaak het as Marullo in Verdi se opera Rigoletto. Die sangers word op klavier begelei deur Paul
Ferreira, wat een van Suid-Afrika se beste operabegeleiers is. Ferreira is ‘n vryskutkunstenaar wat
ook musiek en klavier aan ‘n privaatskool in Pretoria onderrig, met ‘n uitvoerderlisensiaat in vokale
begeleiding van UNISA.

Kunstenaars:

Anna Bordignon Soprano Verona Italy

Stefan Louw Tenor South Africa

Phuti Matuba  Baritone Pretoria South Africa

Johan du Toit Tenor Pretoria South Africa

Paul Ferreira Pianist Pretoria South Africa

Go to Top