Goeiedag Atterbury nuusbrief vriende,

Die einde van 2019 is in sig en dan natuurlik ook die heerlike vakansietyd! Daar is darem nog vertonings om van te kies en keur en dis ook ‘n goeie idee vir ‘n unieke jaareindfunsie wat ons graag sal help reël bv. Eric Holm  vir die  eerste met die kitaar wat spesiaal gebou is sodat hy sy passie vir musiek, ten spyte van sy ongeluk, kan voortsit, Drie van die Bestes, Coenie de Villiers en Deon Meyer met Karoo – Kersfees,  Nataniël  se Somerkombuis, Blondes op 2 Klaviere met ‘n groot verskeidenheid van Liszt tot Abba!, 3 Susters met Lizz Meiring, Margit Meyer-Rodenbeck en Nicole Holm en vele meer!

3 November, 15h00 – National Eisteddfod Showcase

Die Nasionale Eisteddfod Showcase konserte het ontwikkel tot ‘n kulturele hoogtepunt wat duidelik blyk uit al die uitverkoopte vertonings. By hierdie geleenthede is van die beste jong kunstenaars in Drama, Musiek en Dans te sien en ontvang dan ook toekennings.

Showcase datums by die Roodepoort Teater is van 23 Okt – 1 Nov.

Besprekings vir al die Roodepoort Teater geleenthede is by Web Tickets. Pryse van R60 – R100.

Atterbury Teater: 3 November (Noordelike Gebied – 15:00) Bespreek by www.itickets.co.za

Die sukses van die National Eisteddfod Academy NPC die afgelope 21 jaar kan toegeskryf word aan die voortgaande geleenthede wat aan jong talentvolle leerders gebied word. Die belangrikste van hierdie projek is om selfbeeld and selfvertroue by die jeug te ontwikkel.

Alle ontvangers van diplomas tydens die 2019 Nasionale Eisteddfod kry ook die geleentheid om in te skryf vir die National  Eisteddfod Awards kompetisie van Maart tot Mei 2020, waar jong kunstenaars kan meeding vir prysgeld van R50,000.

Vir verder inligting kontak die kantoor by 011 886 6005 / info@eisteddfod.co.za.

5 November, 19h00 – Seeleeu Leipoldt met Erik Holm

Die Akteur Erik Holm, is opgewonde om ‘n eens in ‘n leeftyd aand aan te kondig, gevul met musiek, komedie en ‘n paar stories en sprokies tussen beide. Hy gaan sy vernuf op sy handgemaakde, enig van sy soort, kitaar wys – vir hom gemaak deur Die meester Mervin Davis.

Voor Erik ‘n ‘Binnekamer Gas’ geword het deur in ‘n verskeidenheid televisiereekse te speel, was sy passie musiek. Musiek was Erik se murg in sy pype…

‘n Tragiese ongeluk in 2007, het Erik verlam gelos. Na vele pynvolle maande van rehabilitasie, het Erik gebruik van sy arms terug gekry, maar nie sy vingers nie, dié wat juis nodig is om die kitaar se snare te tokkel. Erik het tot ‘n vurk in die pad gekom, hy kon besluit om moed op te gee, of om groot te gaan. Hy het gekies om groot te gaan. Erik het vele rolle vertolk in verskeie bekende televisie reekse, het films geregisseer, en selfs verskeie rolle vertolk in teater stukke wat toekenning ingepalm het. Hy het baie “bucket list” items afgemerk soos om te gaan skuba duik, uit ‘n vliegtuig te spring en om die wêreld rond te toer. Hy is tans besig met ‘n bewusmakings veldtog vir mense met ekstra-ordinêre vaardighede het, en het self ‘n teater stuk geregisseer saam met ‘n kinderhuis – wat na aan sy hart is.

In 2019, na maande se gebou en “fine tune”, het Mervin Erik se nuwe kitaar klaar gemaak, en sedertdien is hy besig om hierdie nuwe “Beast” soos hy dit noem te bemeester. Die mense na aan sy hart kan definitief oplet dat die murg terug is in sy pype, as hy sy kitaar tokkel.

Kom saam met Erik en geniet sy musiek vir ‘n fantastiese aand uit. Kaartjies is beperk, jy sal moet moet wikkel, anders mis jy die tokkel.

6 November, 20h00 – Bêreboksie vol Vlerke

Kunstenaar/skrywer Lidi de Waal en komponis/musikant Lizanne Barnard se paaie het op facebook gekruis sowat twee jaar gelede en daaruit het ‘n baie spesiale samewerking ontstaan en uitgevloei in die verhoogproduksie Bêreboksie vol Vlerke.

De Waal se plat-op-die-aarde storiestukkies oor Ouma en Oom Staal se liefde en se leed soos gesien deur die oë van die kind en die vrou, word meesterlik vertolk deur veteraan-aktrise, Elize Cawood. Ouma is nie op haar bek geval nie en ‘n klein dorpie se inwoners kry ‘n piece of her mind of hulle daarvoor vra of nie. Maar ook ‘n deel van haar hart en haar wonderlike wyshede.

De Waal se verse soos getoonset deur Lizanne Barnard in die 5-ster album “Gevlerktes” is vroeër in 2019 benoem vir ‘n Ghoema-toekenning in die afdeling Beste kontemporêre album deur ‘n vroulike kunstenaar. Hierdie liedjies in genres wat wissel vanaf Boeremusiek, en Reggae tot Latin en Rock word uitgevoer deur ‘n 4-stuks band met o.a Leon Ecroignard, Pyjama Shark en Thys van Deventer.

Bêreboksie vol Vlerke neem die gehoor op ‘n ryk storiereis wat sorg vir ‘n paar trane, maar ook ‘n lag en ‘n skater.

Hierdie produksie is na sy debuut-opvoering in die Atterburyteater in Mei 2018 onmiddelik teruggenooi op grond van sy popularitet. Daar word na hierdie produksie verwys as een van die bestes die afgelope twee jaar en het gehore gereeld op hulle voete.

‘n Goeie idee sal wees om die borstrokke en dasse so êffentjies los te wikkel, want Ouma draai nie doekies om nie en sê ‘n ding net soos hy is.

Regie is behartig deur Gerrit Schoonhoven en Lidi de Waal se visuele kuns word deel van die ervaring as projeksies op skerm deur Kitchen Floor Tango Productions.

7 November, 20h00 – Helene Bester sing Nana Mouskouri

Helene Bester bring in haar produksie – Helene Bester sing Nana Mouskouri – hulde aan hierdie ikoniese Griekse sangeres.  Bester se produksie is hierdie jaar onder groot toejuiging by die OPPIWATERKUNSTEFEES bekendgestel.  Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser – ook Helene se begeleier, tydens die Mouskouri-vertonings.  Helenè Bester sing Nana Mouskouri word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Featherview Oogkundiges, Fleur by Julene Rokebrand, Van Loveren Wines and Stuttaford Van Lines aangebied.

“Ek het nog altyd daarop gehoop om ‘n Nana-vertoning te doen. Ek is so mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword” vertel Helenè. “Ons het rerig gedink dat sy ‘n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my, om die vertoning te doen.  Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer 10 jaar terug nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.” Ek’t haar musiekvideo’s “opgeswot” om te kyk hoe sy beweeg op die verhoog, wat sy met haar hande doen en hoe sy ‘n gehoor aanspreek.  Mens wil dit tog so geloofwaardig moontlik maak.  Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helenè my oor hierdie projek nader,was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helenè om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”

10 November, 15h00 – Evergreen

Suzette Wilkens Produksies bied Sondag 10 November om 15:00 ‘n konsert in die Atterbury Teater in Pretoria aan. Hierdie is beslis ‘n hoogtepunt van die jaar wat almal sal geniet !

Die Produksie heet Evergreen en bied voorwaar tydlose musiek aan. Gunstelinge wat die toets van tyd deurstaan het en ons soliste Vita Wilkens (Sopraan), Schandry Kuhn (Alt), Dewald Grobler (Bariton), Johan Schlebusch (Bariton) en Marco Basson (Tenoor) se stemme uitstekend pas, word uitstekend aangebied.

Marco het verlede jaar aan “The Voice SA” deelgeneem en almal was in ekstase oor sy pragtige stem en voorkoms op die verhoog. Hy was onder die top tien en ons is baie trots daarop. Met Marco is die volgende treffers ‘n moet! The Great Pretender, Namakwaland, en natuurlik Bridge over troubled water saam met Johan. Uit die opera-afdeling is die Nessun Dorma met Dewald en Vita so opwinded soos die lied self.

Part of your world(The Little Mermaid) en Another suitcase in another hall(Evita) word deur Schandry getrou aan die styl gesing. Die veelsydige Johan Schlebusch is op sy beste met C’est Moi en When I fall in love.

Ons maak van uitstekende instrumentaliste gebruik en dus geen klankbane nie. Hulle is Ruan Kruyshaar (Klavier/Klawerbord), Christelle Engelbrecht (Orrel/Klawerbord), Prof Kobus van der Walt (Baskitaar) en Johan Erasmus (Dromme).

Moet dit nie misloop nie! Koop vandag nog jou kaartjie! Kaartjies vir die konsert kos R160 en is op iTickets beskikbaar.

11 November, 20h00 – Tribute to Dire Straits

Vir die afgelope 11 jaar het die talentvolle musikant Mel Botes gehore oor die land vermaak met sy uitstekende musikale produksie Crazy Diamond – A Tribute to Pink Floyd. Kritici is dit eens dat hy die kompleksiteit van Floyd bemeester het soos geen ander huldeblyk produksie kon regkry nie. Daarna het sy oorspronklike komposisies van David’s Confession – About Time gevolg saam met ander bekroonde musikante.

Nou volg die volgende langverwagte Tribute to Dire Straits, met dieselfde bekroonde musikante met die spesiale Botes aanslag, en dit gaan aan gehore alles bied wat hulle van hierdie kitaarmeester verwag.

Bekende nommers  sal gehoor word soos o.a. Money for nothing”; “Walk of life”; “Calling Elvis”; “Telegraph Road”; “Private investigations”; “Romeo and Juliet” ; “Brothers in arms asook The man’s too strong”, “Darling pretty”; “Sands of Nevada” en vele meer. Kom geniet hierdie uitmuntende musikante van Storm Produktionz.

12 November, 20h00 – OPTOG! Drie van die Bestes (Kevin Leo, Mathys Roets & Danie Niehaus)

Drie fenomenale stemme wat as solo-kunstenaars elk reeds diep spore getrap het in die Afrikaanse musiekwêreld. Saam haal hulle treffer-liedjies uit ’n musikale skatkis van twee dekades en pak dit in die OPTOG! kombi se kattebak. Hulle stof oues af en durf nuwes aan en word vir hierdie vertoning begelei deur pianis, Matthys Maree.

Dis ’n viering van drie goeie vriende se twintig jaar saam in die musiekbedryf. ’n Aand van lekker lag en goeie musiek!

13 November, 20h00 – BENNY BUSHWHACKER – Human Nature

Die Republiek van Suid Afrika verwelkom met trots tuis, Benny Bushwhacker, die befaamde natuurbewaarder, omgewingskundige, die enigste man wat al drie keer kaalvoet deur die lengte van Afrika geloop het. Dié legende keer terug om met ons te deel wat dit verg om in die Afrika bos te oorleef.

Die gemoedelike Benny Bushwacker wat in Suid Afrika gebore is en onlangs koppe gestamp het met die Britse “survivalist”, Bear Grylls gaan op ‘n toer na Suid Afrikaanse teater en feeste, met ‘n skreeusnaakse kyk na die botsing tussen die mens en omgewing. Vir iemand wat meer tyd as ‘n hibernerende Poolse hout padda weg van die daaglikse gewoel hier deurgebring het, sorg hy vir menslike en heerlike humor by sy optredes wat almal sal laat skaterlag en wonder hoekom die skaarste menslike eienskap, as dit by die bos kom, “common sense” is.

Of dit nou gaan oor die verandering van die Springbok embleem, hoe om ‘n liegbek in die Kruger raak te sien, of die geringe kans vir sy vervreemde vrou, Brenda, om die plek van die Buffel in die Groot Vyf  oor te neem, slaag hy elke keer  met sy unieke humorsin en klassieke boslogika kwinkslae.

Gedurende sy Suid Sfrikaanse toer gaan hy geld insamel vir vir die Lebombo Leopard- Human Conflict Survey.

Benny se stories en ondervindings is deur John van de Ruit (van Spud faam) beskryf en van die skrif na die verhoog verplaas  deur Janice Honeyman. Bespreek betyds vir 13 November by die Atterbury Teater en kom deel in hierdie wonderlike blik na “life on the wild side” want soos met die renoster, weet mens nooit of jy weer die kans sal kry om dit te sien nie.

14 November, 20h00 – Jan Blohm & Band

Wanneer jy al als in die lewe probeer en ervaar het. Wanneer jou pelgrimstogte deurgetrap is en jou kruispaaie, deurkruis is. Wanneer jy selfs die hardste edelgesteentes en Ruby’s van die verlede deurkou het en jy vrede gemaak het met met jou verlede en wat die wêreld daarbuite van jou dink. Wanneer jy jou lisensie gekry het vir selfaanvaarding, eers dan, dan ervaar die rykdom wat elke mens so na smag; Die Liefde.

Die Liefde Album is Jan Blohm se nuutste vrystelling na ses jaar, maar is nie gevul met heuning-lirieke wat drup nie, maar eerder die rou, eerlike waarheid wat nét Jan kan vasmessel in ‘n album gevul Blues, Rock & Poëtry, saam met John Masser op kitaar en backing vocals, Francois Kleinhans ook op kitaar. Tinus Odendaal op dromme en die bekende Danny Lalouette op Bass.

Dié rebelseun wat ons leer ken het, is nou ouer en meer volwasse. ‘n Jan wat glo dat in die tye waarin ons tans leef, LIEFDE al is wat die wêreld nou nodig het. Dít kan jy hoor in sy lirieke, sy passie in die stiltes tussen woorde, terwyl sy eerlike, rou akoestiese melodië jou hartsnare pluk net soos die sterk kitaargedrewe Liefde-album homself.Jan Blohm se debuutalbum wat in 2004 verskyn het, Melkstraat Confession, het die rock-wêreld op sy kop gedraai nadat hy in 2005 met die GMT-Toekennings die kollig gesteel het met ‘Album van die jaar’. Breyten se brief was toe as liedjie van die jaar aangewys en Jan as “Beste nuweling”.

‘n Musikale sirkel wat begin het met frustrasies, teenkanting, sonder begrip en hoop, is vandag voltooi met selfaanvaarding en die grootste van als; Die Liefde… Jan Blohm breek die kontras tussen rock en liefde, en gaan jou harde rocker’s hart laat smelt met sy nuutste; Die Liefde Album!

Die albumtitel klink dalk vir sissies, nes hy op skool gespot is toe hy portrette wou teken met houtskool, maar Jan Blohm oortuig met sy nuutste vrystelling; hy het die pad gestap van selfaanvaarding en kan hom nou met reg die kontrasteerende titel toe-eien as die ‘rock-koning van harte’!

15 November, 19h00 – Dance Equation’s “Strictly Show” – A Night at the Musicals

Hierdie vertoning het begin in 2016 en was ‘n ernorme sukses vir die deelnemers sowel as die gehoor. Na ‘n reuse vertoning in 2018, is hulle baie opgewonde en wil graag nuwe hoogtes bereik op die verhoog van die Atterbury Teater.

Hierdie jaar is die tema,” Musicals” en gaan groter as ooit wees met meer Danse, meer effekte, meer pret, meer pryse en baie “pizzazz”! Die beoordeelaars is drie glanspersoonlikhede van die Suid Afrikaanse Dans wêreld en sluit in talentvolle amateurs asook professionele dansers van die Dance Equation Studio.  Hulle ondersteun ook CANSA.

As jy lief is vir Ballroom en Latin American Dans, musiek van die groot Musicals of net lus is vir ‘n heerlike aand uit, moet jy dit beslis bywoon! Ingesluit by die kaartjieprys is ‘n ongelooflike “goodie bag” ter waarde van R1, 300 en daar gaan ook besondere pryse getrek word gedurende die aand.

Nooi gerus familie en vriende en kom geniet die elegansie en glans van die Dance Equation Strictly show – A Night at the Musicals!

17 November, 14h300 – Karoo – Kersfees met Deon Meyer & Coenie de Villiers

Kom vier ‘n vroeë Karoo-Kersfees saam met spanningskrywer Deon Meyer en musieklegende Coenie de Villiers. Die program word ingelei met ‘n paar van die mees geliefde Kersliedjies, en dan voer Deon en Coenie vir oulaas hulle Karoo Suite uit.

Hierdie produksie het Suid-Afrikaanse gehore op hulle voete gehad, en dit sal bes moontlik die laaste vertoning daarvan vir die afsienbare toekoms in Pretoria wees. Maar daar is ‘n baie spesiale bonus tydens hierdie konsert.

“Wel, ons werk tans aan Karoo Suite 2: Karoonagte,” vertel Coenie. “ Hierdie keer vertel ons nag-verhale – Deon het ‘n boek geskryf met die naam van Karoonagte en ek het die gelyknamige liedjie. Ons het gedink dis die ideale  geleentheid om die prag van die Karoo te besing.”

Deon is weer eens die verteller, maar hierdie keer is hy nie die fotograaf soos met die eerste produksie nie.  “Ons gebruik onder meer beeldmateriaal van NASA, en ook van die National Geographic-fotograwe wat onlangs die hemelruim vir daardie betrokke tydskrif vasgevang het,” vertel Deon. Deon is weer verantwoordelik vir die teks en is ook die verteller op die verhoog, terwyl Coenie weer eens die inkleding en musiek verskaf.

Die bonus tydens die Karoo-Kersfees konsert, is dat Coenie en Deon ‘n lusmaker vir die nuwe produksie gaan aanbied, hoewel dit eers in 2020 debuteer. “Ons doen ‘n enkele hoofstuk uit die nuwe Karoo Suite 2 produksie tydens die konsert,” vertel hulle opgewonde. “Ons hoop hierdie lusmaker sal mense volgende jaar na die volledige produksie toe lok!”

Hulle word op die verhoog bygestaan deur die room van Suid-Afrika se musikante: Jaconell Mouton op klawers, Mauritz Lotz op kitare en David Klassen op perkussie. Coenie is self weer agter die klavier.

Besprekings is by iTickets en daar is ‘n middagvertoning op die 17de November om 14h30.

18 November, 19h00 – Nataniël  Somerkombuis

Die jaar lê amper op sy rug en die meeste mense se kookvernuf begin daaronder ly… In die vierde seisoenkombuis van 2019 sal jy weer jou muse kan laat herleef!

Tydens hierdie unieke kook-en-kletsgeleenthede staan Nataniël letterlik op die verhoog en demonstreer eenvoudige dog smullekker geregte, terwyl hy die een spontane spitsvondigheid na die ander kwytraak.

Die resepte van die betrokke aand se seisoenkombuis is na die tyd in die voorportaal beskikbaar, en daarna ook op ons webwerf – hou dit in ‘n lêer vir volgende jaar!

19 November, 20h00 – Blondes op 2 Klaviere / Blondes on 2 Pianos – VIR DIE EERSTE KEER BY ATTERBURY!!

Elna van der Merwe en Zorada Temmingh het sedert 2006 bekendheid verwerf as die Blondes, ‘n unieke klavierduo wat ewe gemaklik treffers van die groot klassieke meesters as dié van ligtemusiek-legendes verwerk tot tweeklavier-keurspele. Hulle is bekend daarvoor dat hulle klassieke musiek op ‘n ligte manier, en ligte musiek op ‘n klassieke manier na gehore te bring. Die Blondes het reeds 4 CD’s vrygestel en tree landwyd op. Hulle het ook internasionale optredes in London en Israel gehad. Elke jaar kies hulle nuwe komponiste: vanjaar s’n is Chopin en Liszt. Hierdie twee 19de-eeuse Paryse pianiste se bekendste melodieë word deur die twee Stellenbosse pianiste in vindingryke keurspele op twee vleuelklaviere uitgevoer.

Chopin, die “digter van die klavier” se mooiste melodieë uit sy walse, nokturnes, preludes, etudes, polonaises en klavierconcerti, vorm ‘n keurspel van uiterstes: delikate grasie tot heroïese grootsheid. Liszt, die “Paganini van die klavier”, se hoogdrama, virtuositeit en speelsheid word vervat in ‘n keurspel uit sy klavierconcerti, sy geliefde Liebestraum en La Campanella, die Consolations en nog meer.

Dan is daar ook nog Boland Blues, ‘n keurspel waarin twaalf volkswysies in twaalf verskillende toonsoorte aangebied word – die bekende woorde verwys almal na iets in die Boland. Tussendeur word die draak gesteek met bekende klassieke musiek tot groot vermaak van kenner en liefhebber.

Die ABBA-keurspel sluit van hul grootste treffers in, soos Money, Money, Money, Waterloo, Fernando, Voulez-Vous, Thank you for the Music, SOS en ander. Met twintig vingers wat rock op twee klaviere kan dit nie anders as ‘n tintelende ervaring wees nie.

21 & 22 November, 20h00 – 3 Susters met Lizz Meiring, Margit Meyer-Rodenbeck en Nicole Holm.

Kom reis saam met drie susters deur die slaggate en mynvelde van verhoudings, vrou- en ma-wees. Christine, Anel en Bianca se vlug na Thailand is vertraag. Dis Christine se 50ste verjaarsdag en dis die tweeling se verjaarsdag geskenk aan haar. Hoekom moet Anel en Bianca altyd inmeng? ‘n Bord sushi sou net so goed gewees het. Sy weet hulle is familie, maar hulle weet ook sy’s bang vir vlieg.

Terwyl die susters die tyd verwyl met kaarte, boeke, cappuccino’s en vlymskerp tonge word lewenskeuses uitmekaar getrek en ou koeie opgegrawe. Want hier sit hulle nou. Die vlug is vertraag en sy’s hoog op kalmeerpille. Bianca is vas oortuig sy’t hulle verlore ma gesien. Anel praat met ‘n aantreklik man. Christine maak haar oë toe. Sy droom van stilte. Absolute stilte. Sy wens partykeer haar man en seuns wil net verdwyn. Sy mag dit nie dink nie, maar…. sê nou maar, sê nou maar Thailand is die antwoord.

Sal hulle ooit daar kom? Of is almal net te vlugvoos? Drie susters is ʼn  dramedy geskryf deur Louis Pretorius van Die Boekklub-faam.

27 & 28 November, 20h00 – Mnr Seks en Mev Kopseer

“Mnr Seks en Mev Kopseer” is ‘n konsep so oud soos die berge. Ons weet mos nou al teen die tyd dat die man altyd lus en vrou altyd geblus is – nie waar nie? Maar dit is nou eers onlangs dat hulle uit die slaapkamer begin praat, en dat ons agterkom dat dit eintlik baie meer “50 skadus van grys” is.

In Timothy Kieswetter se nuutste opvoedkundige komedie, ontdoos hy al die steriotipiese gedrag wat ons aan die manlike en vroulike seks koppel.

Moenie toelaat dat die samelewing jou in ‘n steriotipiese boks plaas nie. Ons nooi jou uit om die Alpha-man, die koek, die tert, die player en nog vele meer karakters te ontmoet en sien hoe hulle ontdoos word. Kom verreik jou huwelik met hierdie vermaaklike en skreeusnaakse een-man komedie en ontdek Mnr Seks en Mev Kopseer in ‘n splinternuwe lig. Hierdie is ‘n komedie wat jy NIE wil misloop NIE.

29 November, 20h00 – Full moon fever – Celebrating the music of Tom Petty

Wat meer kan kan oor Tom Petty gesê word? Rebel, rock n’ roller, 80’s superster, romantikus, hartebreker, Blues man en folk troubadour. Petty het geweier om aan plate etikette en neigings te voldoen, en getrou gebly aan sy musikale visie vir meer as 30 jaar! Sy ontydige dood in 2017 het hernude belangstelling in sy musiek ontketen, ook onder selfoon- behepte milleniums .

Blood Brothers bied met trots aan Full Moon Fever, ‘n reis deur Petty se musiek met ‘n paar verrassings!  Van Suid Afrika se beste musikante sal eer betoon aan sy lewe en musiek op die enigste wyse wat hulle ken nl. “rocking out”

In hierdie vertonings sal optree: Jonathan Tait (Hatchetman, Checkpoint Charlie) en  Basson Laushcer (Zinkplaat, Valiant Swart, Ryno Velvet) op kitaar and stem. Jason Hinch (Bok van Blerk, Black Cat Bones, Jonathan Peyper) op dromme en Jaco Mans (Bok van Blerk, Tidal Waves) op baskitaar en die ritme seksie, met Francois Viljoen (The Voice) op klawerbord en agtergrond stemme.’n Spesiale verrassing is  die gaskunstenaar Lucinda Neethling (Die Melktert Kommissie).

Hierdie Petty bewonderaars sal ‘n seleksie van Tom Petty se treffers en saamsing gunstelinge aanbied, meer as wat die gehoor ooit  kan verwag!

30 November, 19h00 – Pearls of the East

‘n Buikdanseres, misterieus, betowerend….. Haar heupe beweeg saam met die ritme van die musiek. Haar bewegings is elegant, grasieus en vloeiend soos sy.

Pearls of the East is ‘n Oosterse genotvolle  produksie met skouspelagtige kostuums, opwindende danse uitgevoer deur die mooiste danseresse, by die Atterbury Teater op 30 November.

Kom geniet die heerlike someraande hier in ons sentrum met al die mooi  Kersfeesliggies, lekker kos en wyn en uitstekende vertonings.

Teater groete,

Paulette.